Godfried van Bouillon (Frans: Godefroy; Duits: Gottfried; Latyn: Godefridus Bullionensis) (Boulogne-sur-Mer of Baisy-Thy, 18 September 1060 – Jerusalem, 18 Julie 1100) was 'n Franse edelman[1][2] en van 1087 tot sy dood (as Godfried IV) hertog van Neder-Lotaringe en een van die leiers van die Eerste Kruistog. Hy was die eerste heerser van die Koninkryk van Jerusalem (vanaf 1099 tot 1100), maar weier dié titel van Koning. In die plek hiervan verkies hy die titel van Voog of Verdediger van die Heilige Graf (in Latyn: Advocatus Sancti Sepulchri). Hy staan vandag algemeen bekend as die "Voog van die Heilige Graf" en "Koning van die Kruisvaarders".[3]
Godfried se ouers was graaf Eustaas II van Boulogne en Ida van Verdun, suster van hertog Godfried III van Lotaringe (Godfried met die Bult), wat Godfried (van Bouillon) in 1076 benoem het as sy erfgenaam. Keiser Hendrik IV van die Heilige Romeinse Ryk het egter besluit om die hertogdom aan sy eie seun, Koenraad van Lotaringe te gee, en slegs Bouillon en die markgraafskap Antwerpen aan Godfried. In 1087 het Godfried uiteindelik tog die hertogdom bekom as beloning vir sy dienste in die Keiser se oorlog teen die Sakse en teen Pous Gregorius VII.
© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search